|
Wanneer ons praat van koliek, bedoel ons eintlik "buikpyn", of pyn in die perd se buikholte. Daar is baie oorsake van koliek, en koliek wissel van lig en verbygaande tot lewensgevaarlik en selfs dodelik.
Die belangrikste vorme van koliek is:
Impaksiekoliek. Dit is wanneer die dermkanaal geblok word deur voer (wurms kan ook ’n rol speel) wat saamgekoek het en nie kan deurbeweeg nie. Dit kom veral in die dikderm voor, is een van die mees algemene vorms van koliek en kan gewoonlik suksesvol behandel word.
Gaskoliek. Soms bou gas op in die dermkanaal, wat die derms uitrek en pyn veroorsaak. As dit net ’n aansameling van gas is, is dit gewoonlik maklik om te behandel, maar gas bou dikwels op sekondêr tot ander probleme.
Spasmodiese koliek. Dit word veroorsaak deur ’n toename in dermbewegings, wat spasmas en pyn veroorsaak. Hierdie reageer gewoonlik ook goed op behandeling.
Onsteking van die derms. Pyn word veroorsaak wanneer die derms ontsteek is. Hierdie gevalle moet ook dadelik na ’n veearts verwys word.
Uitsetting en ruptuur van die maag. Wanneer die inhoud van die perd se maag oormatig swel (soos wanneer ’n perd te veel kragkos, hawer of mielies geëet het), veroorsaak dit geweldige pyn. Perde kan nie opgooi nie en omdat hy nie so sy maag kan leegmaak nie, kan die maag so swel dat dit bars.
Verplasing van die derms. Dit kom daarop neer dat ’n gedeelte van die derms in ’n abnormale posisie in die buikholte lê, en soms gedraai is. Verplasings veroorsaak gewoonlik algehele blokkasie van die derms, en kos kan nie deurbeweeg nie. Sjirurgie is noodsaaklik en moet so gou moontlik gedoen word, anders sal die perd nie oorleef nie. In baie gevalle van koliek kan die oorsaak nie bepaal word nie. Hierdie, en alle ander gevalle van koliek, moet altyd as ’n ERNSTIGE probleem hanteer word. Roep eerder ’n veearts te vroeg as te laat uit.
Hoe kan koliek voorkom word?
Koliek is deel van ’n perd se lewe. Dis onmoontlik om alle koliek te voorkom, maar mens kan heelwat doen om die voorkoms daarvan te verminder.
Hoe meer perde op stal staan, hoe groter is die kans dat hulle een of ander tyd koliek sal kry. Hou die tyd wat hulle elke dag op stal staan dus so kort as moontlik (verkieslik nie meer as twaalf uit elke vier-en-twintig uur nie), en laat hulle soveel as moontlik in ’n kamp (hoe groter hoe beter) buite loop.
Hou by ’n vaste voerroetine. Probeer sover moontlik elke dag op dieselfde tyd voer. Moet nie al die kragkos op een slag voer nie. Verdeel dit in minstens twee, maar verkieslik drie voedings per dag.
Perde moet minstens 60% van hul energie uit ruvoer kry. Moenie te veel kragkos voer nie. Bepaal hoeveel kragkos die perd nodig het om in goeie (nie vet nie) kondisie te bly, en pas dit net aan as jy harder met die perd begin werk.
Voer net goeie gehalte hooi. Maak seker dis nie muwwerig nie. Vermy ook hooi wat te stokkerig of te grof is, veral vir ou en jong perde (wat nie goed kan kou nie). Die stokkerige hooi raak makliker verstrengel in die dermkanaal en kan ’n impaksie vorm. Maak seker dat perde altyd toegang het tot skoon water, sodat hul enige tyd kan drink.
Indien enigsins moontlik, laat perde heeldag wei. Indien dit nie moontlik is nie, maak seker dat hulle heeldag toegang het tot ruvoer. Moet nie veld oorbewei nie, want dan sal die perde meer sand/grond inkry as hulle probeer om die laaste bietjie gras teen die grond af te vreet. Sand kan ook impaksies veroorsaak, en moet gewoonlik sjirurgies verwyder word.
Moet nie die rantsoen waaraan perde gewoond is, skielik verander nie. Verander net indien dit werklik nodig is, en doen dit geleidelik deur die vorige voer te meng met die nuwe voer. Verminder geleidelik die vorige voer en vermeerder die nuwe voer oor ’n periode van minstens twee weke, totdat die perde slegs nuwe voer kry.
Maak seker dat kragkos veilig gebêre word, sodat perde nie per ongeluk daartoe toegang kan kry en hulle daaraan oorvreet nie. Moet ook nie te veel perde in ’n kamp aanhou nie. Oorbevolking verhoog die koliekrisiko.
Ontwurm perde gereeld. As ’n breë riglyn moet mens perde elke drie maande ontwurm. Alle perde wat op dieselfde perseel aangehou word, moet gelyk ontwurm word. Moenie party laat oorstaan nie. Indien daar ’n klompie jong perde op die perseel is, moet die ontwurming meer gereeld gedoen word (selfs een keer elke ses weke). Perde wat gereeld in kontak met vreemde perde is, soos byvoorbeeld perde wat gereeld aan skoue deelneem, moet ook meer gereeld ontwurm word.
Laat alle perde se tande minstens een keer elke ses maande nagaan. Tande moet gereeld gevyl word om te voorkom dat skerp rande ontstaan wat die binnekant van die perd se wange seermaak as hul kou. Die skerp rande veroorsaak dat die perd nie goed kou nie, en growwe voer insluk, wat maklik verstrengel kan raak en ’n impaksie kan veroorsaak.
Perde wat geoefen word vir deelname aan sport, moet sover moontlik elke dag geoefen word. ’n Skielike breek in die oefenprogram verhoog die risiko vir koliek. Dit beteken ook dat perde wat seerkry, en dan moet rus, fyn dopgehou moet word, omdat hulle meer geneig is om koliek te kry.
Dit is ongelukkig so dat sommige perde meer geneig is om koliek te kry as ander. As jou perd een van hulle is, moet jy net soveel meer konsentreer op goeie bestuurstegnieke, en meer klem lê op al die wenke hierbo.
Koliek is lewensgevaarlik. Dis die moeite werd om daardie bietjie ekstra aandag aan die algemene bestuur van jou perd te gee, om so die risiko te verminder.
|