Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Te perd na Tandatula
deur Tobie van Niekerk

Die Laeveld Ruiterklub ­bestaan al vir ongeveer 25 jaar en is ’n informele perde-ruiterklub. Die klub het in sy beginjare met 21 aktiewe ruiters begin, en op hierdie stadium is die klub ongeveer 80 ruiters sterk!

Die jongste ruiter is maar ’n skrale vyf jaar oud en die oudste ruiter is 73 jaar jonk. Die klub is sterk familie-georiënteerd en ­betrek die hele ­gesin, veral die jong ruiters. Daar word ­gemiddeld vyf perdetoere per jaar ­geskeduleer.

Die Augustus-toer was na die plaas, ­Tandatula, van Willem Janson in die Kaapsehoop­-distrik. Sowat 47 ruiters het die Donderdag-oggend van net buite Nelspruit na Tandatula vertrek. Na vier ure oor ongeveer 20 km, omring deur die natuurskoon van die Laeveldse valleie en berge, het die uitgeputte ruiters veilig, maar ontspanne op Tandatula aangekom. ’n Heerlike naweek van perdepret en plesier het voorgelê.

Die Vrydagoggend, na ’n heerlike ­gesament-like ontbyt, was almal weer perdfiks en opgesaal vir die dag se wildbesigtiging. Teen namiddag het almal deelgeneem aan hope perdepret met georganiseerde speletjies en ’n ­tydwedloop om en deur die plaasdam. Vir die jong ­ruiters was dit ’n groot uitdaging en almal het dit ­terdeë geniet!

Na die Saterdagoggend se uitrit is ’n lesing aangebied deur ’n oud-Laevelder en perdekenner, George Kreswill, oor perdeveiligheid en -hantering.

Dit is gevolg deur ’n kort praktiese aanbie­ding van oor sogenaamde natural ­horsemanship deur Gordon Grobler met sy bekende ­Appaloosa, La Cotta.

Saterdagaand se spitbraai was beslis een van die naweek se hoogtepunte. Perdestories en -staaltjies van toeka tot nou is om ’n groot kampvuur vertel en gedeel! Kampvuurmusiek met kitaar, mondfluitjie en groepsang het die aand op ‘n gesellige noot afgesluit.

Sondagoggend is almal vroeg uit die vere om gereed te maak vir die tog huistoe. Daar is swaarmoedig opgesaal en afskeid geneem van, Tandatula, wat "liefde vir stilte" beteken

Na ’n veilige en suksesvolle terugrit was almal warm, moeg en dors toe ons teen twee-uur terug by ons plaas buite Nelspruit aankom. Nadat almal hulle dors geles en hulle perde versorg het, is daar afskeid geneem van nuwe vriende, kennisse en mede-ruiters.

En die volgende toer is klaar met ­opge-wondenheid bespreek en beplan! Hier is ’n paar foto’s wat lesers beslis sal lus maak om volgende keer saam te kom ry.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.