|
Afrigtingsmiddels, en veral die hulpmiddels wat in die Saalperdwêreld gebruik word, lok heelwat emosie uit en word deur baie met afkeur begroet. Ten einde ’n perspektief op ván hierdie hulpmiddels en afrigtingsmetodes te kry, het SA Horseman met ’n paar afrigters gaan praat wat wel van die metodes gebruik maak.
Tommie van Staden is ‘n Saalperdteler en -afrigter in die Bapsfontein-omgewing naby Pretoria, terwyl Johan de Klerk ’n SA Boerperdteler in Benoni is. Hoewel Johan sy Boerperde volgens hierdie metodes afrig, beklemtoon hy dat hy nie namens die SA Boerperdtelersvereniging praat nie.
"Daar is wel wrede afrigters daar buite, maar hulle kry ons in alle dissiplines. Dit is ook so dat afrigtingsmetodes in die hande van een afrigter wreed kan wees, maar in die hande van ’n ander baie doeltreffend is," sê Johan.
Hy haal die woorde aan van die bekende perdeman, Monty Roberts, wat gesê het dat die belangrikste deel van enige stang of kopstuk, die hande is wat dit vashou.
"Wat my betref gaan die afrigting van die perde in die eerste plek om die natuurlike talent van die perd te identifiseer en hierdie talent tot die optimum te ontgin en oor die vermoë van afrigting.
“Daar is baie maniere waarop ’n perd afgerig kan word, maar die verskil tussen ’n afrigter en ’n wyse afrigter, is die vermoë om die korrekte metode vir ’n spesifieke perd te kies. Daar is vier belangrike aspekte as dit kom by die afrigting van perde.
“Die eerste is om die perd korrek op te som en sy natuurlike talent te identifiseer. Tweedens moet die regte afrigtingsmetode geïdentifiseer en aangewend word vir die dissipline waarvoor die perd geskik is. Derde is daar die korrekte keuse van saal en toom vir die spesifieke dissipline, en laastens die hoefbeslag. Ek glo dat die hoefsmid tot 40% tot die sukses van ’n afrigter bydra."
’n Ander aspek wat Johan uitlig, is dat die vlak van mededinging deurgaans hoër word, wat beteken dat daar toenemend hoër eise aan beide perd, afrigter en ruiter gestel word. Dit is dus nodig om voortdurend na nuwe, wetenskaplike afrigtingsmetodes te soek om by te bly. Natuurlike talent alleen is nie meer genoeg nie.
"Die tegnologie ten opsigte van afrigtingshulpmiddels het geweldig gevorder. Hiermee saam het daar egter sekere persepsies egter ontstaan – dikwels op grond van ontoereikende inligting. Omdat een persoon ’n sekere hulpmiddel misbruik het, het dit daartoe gelei dat die hulpmiddel, en nie die persoon wat dit misbruik nie, afgeskiet word."
Die doel van enige afrigtingshulpmiddel, voel hy, is om die perd soepel te kry, hom gereed te maak vir die doel waarvoor mens hom wil aanwend en hom tot sy volle potensiaal te ontwikkel. Geen hulpmiddel kan ’n perd verby sy natuurlike vermoë laat ontwikkel nie: "Ek glo nie dat enige van die hulpmiddels waaroor ons vandag gaan praat, inherent sleg is nie. Die sleutel lê in hoe dit aangewend word."
Op hierdie punt sluit Tommie by die gesprek aan. "Ek dink ’n groot probleem in hierdie land is dat ons nie oor genoeg professionele perde-afrigters beskik wat die korrekte inligting en praktyke aan die perde-entoesiaste oordra nie. Te veel mense wil hulle perde op hulle eie manier afrig.
“Hoewel hierdie mense se motiewe suiwer mag wees, kan hulle maklik uit onkunde hulle perde seermaak.”
By die gebruik van die verskillende hulpmiddels, wys albei daarop dat afwisseling uiters belangrik is in ’n oefenprogram.
Dis ook belangrik dat die perd éérs die basiese verbale tekens van stap, draf, galop, spoed en energie vermeerder en/of verminder en stop sal verstaan, voor mens hulpmiddels begin gebruik.
Bitting
Die beginsel van bitting, sê Tommie, is om, sonder om op sy rug te klim, die perd te leer om die stang te aanvaar. Wat mens daarvoor nodig het is ’n band om die perd se lyf met ringe op verskillende posisies. Daarmee saam word ’n ophaler (overcheck) saam met die toom aangesit en die teuels word dan aan een van die ringe vasgemaak. Die ophaler wys vir die perd wat die korrekte posisie van sy nek is.
Hierdie is ’n geleidelike proses. Aanvanklik sal die teuels laer geplaas word en geen ophaler sal gebruik word nie. Soos die perd verstaan om sy onderkaak en keelspiere te ontspan, sal die ophaler aangesit word om die korrekte nekposisie en dra van kop te kry. Die ophaler keer dat die perd nie sy kop te laag hou nie.
"Die bek is waar alles begin. As jy dit met ’n motor vergelyk, kom sy stuur, sy remme en sy ratte uit sy bek. Dieselfde geld vir die aksie. Perde moet natuurlike aksie hê, maar jy kan sy natuurlike aksie bevorder deur sy bek reg te skool. Bitting gaan dus oor die korrekte skoling van die perd se bek," beklemtoon Tommie. "Die geheim van so ’n bitting sessie, is om op te hou vóór die perd teen jou begin werk en/of spiere oorwerk en in spasma gaan."
Langteuels
As die perd die stang aanvaar het, dan is die volgende stap om hom te leer om rond te werk en om bevele soos rigtingveranderings en stoppe te gehoorsaam. Laterale soepelheid raak nou belangrik. Aanvanklik gaan die langteuels deur die ringe in die lyfband direk na die trens. Sodra hy goed hierop reageer, word die langteuels in ’n V-formasie deur die trensringe weer aan die lyfband gekoppel.
Die lekker van langteuels, sê hulle, is dat jy al kan begin werk voordat die perd sterk genoeg is om ’n ruiter te dra. So, wanneer jy dan uiteindelik op hom klim, kan hy reeds die basiese vlak van skoling hanteer.
As die perd gemaklik in die langteuels is, is dit tyd om sy beweging te begin ontwikkel deur die gebruik van rekke en kettinkies of rateltjies. Dis ook die tyd dat hulpmiddels soos die Market Harbourer, die pessoa en die chambon gebruik kan word.
"Hierdie is die fase waarin mens die perd kan begin sterk maak deur spesifieke oefeninge. So ’n sessie duur baie kort – so tussen vyf en sewe minute, en die effek kan dramaties wees," sê Johan.
"Mens kan hierdie oefensessie vergelyk met wanneer ’n mens in die gimnasium sou oefen. Elke oefening is daarop gemik om ’n spesifieke stel spiere te oefen. Dis belangrik om te weet wanneer om vir die perd ruskans te gee. Sulke sessies sal tipes uit ’n paar stelle van twee of drie minute bestaan, met ’n minuut of twee ruskans tussenin." Dit is uiters belangrik om te prys waar nodig.
’n Belangrike faktor, sê Tommie, is hoe lank ’n perd op ’n slag kan konsentreer. Dit help nie om ’n perd in hierdie opsig te ooreis nie. Daarom is afwisseling so belangrik.
Rekke en kettings
"Die doel van die rekke en kettinkies om die kote," se Johan, "is om beide elevasie en lengte van tree te verkry. Verder kan dit baie help om ritme in ’n perd te ontwikkel wat daarmee sukkel, en dit bou ongetwyfeld die regte spiere."
Daar is verskillende maniere om rekke te gebruik. Die beginsel is dat die perd teen weerstand moet werk en sodoende word spesifieke spiere geïsoleer wat ritmies gewerk word. Rekke word algemeen aan die kote van die perd vasgegespe, maar party afrigters doen dit bo die kote en ander heg dit van die koot na die buikgord.
Kettinkies wissel in gewig, maar die doel is om die perd bewus te maak van sy pote en om sy pote te gebruik. Rateltjies het dieselfde funksie. Die geraas maak die perd bewus van sy pote, wat daartoe lei dat hy hulle hoër optel en verder vorentoe neersit en sodoende vanuit sy blad werk en sy ritme bevorder.
Hierdie hulpmiddels word ook net vir ’n beperkte tyd tydens ’n oefensessie gebruik en dan afgehaal, anders raak die perd gewoond daaraan en het dit nie meer ’n invloed nie.
Shackle boots
Daar is verskeie shackle boot-ontwerpe. Die doel daarvan is om spiere te oefen, die perd lig voor te maak en van agter te beset (engage). Hierdie is gevorderde afrigting, sê Tommie. "Mens sit nie sommer shackle boots op ’n jong perd nie. Shackle boots word met ’n W-lyn gebruik, en die gewig en manier waarop jy die tou in die W-lyn gebruik speel ’n baie groot rol. Dit is baie maklik om shackles verkeerd te gebruik tot nadeel van die perd. Dit kan ernstige beserings in ‘n leek se hande veroorsaak.
Dumb jockey
Hierdie hulpmiddel kan as ’n kunsmatige ruiter beskryf word. Dit verskaf bloot aanhegtingsplek vir die teuels op ongeveer dieselfde hoogte as wat die ruiter se hande sou wees, verduidelik Johan.
Beide Tommie en Johan beklemtoon dat al hierdie hulpmiddels slegs is wat die naam impliseer – middels om die afrigter te help om sy doel te bereik. Daar mag nooit van die perd verwag word om te doen waarvoor hy nog nie gereed is nie. En die perd mag nooit ooreis word nie.
(Outeursnota: Omdat die vertaling van sekere Engelse begrippe na Afrikaans soms lomp is, het ek van die begrippe in Engels gehou.)
|