|
Oefening is die proses waardeur die perd geleidelik aanpas by dit wat ons van hom gaan verwag om te doen. Die anatomie (of strukture) en fisiologie (prosesse wat die perd maak werk) moet aangepas word by die eise wat uithouritte (of enige ander sport) aan hom gaan stel.
Soveel uithouritperde word net op twee maniere gewerk – hulle word in ’n ring in die rondte gejaag sonder enige hulpmiddels of teen ’n gallop gery op die langpad, met enig-iets van ervare en goeie ruiters tot onkundige ruiters in die saal. Klink vir my maar na ’n hoë-risiko en vervelige spulletjie.
Daar is heelwat ruimte vir variasie, wat dit vir beide perd en ruiter lekkerder maak. Kom ons kyk na ’n klompie komponente wat by die oefenprogram ingesluit kan word (en dis waarskynlik nie ’n volledige lys nie).
Gange van die perd
Die verskillende natuurlike gange van die perd moet bykans almal 'n beurt kry as deel van die oefenprogram. Hierdie is:
- Stap (walking). Uitstekende oefening en behoort die basis van enige jong/nuwe uithouritperd se opbouprogram te vorm. Dit versterk die raamwerk van die perd (beenstruktuur, ligamente, spiere en spierpese). Die perd moet aanstap met ’n swaaiende agterkwart en ontspanne nek op ’n los-/langteuel
- Draf (trotting). Dit bou spierkrag en help om die raamwerk verder te versterk
- Galop (canter). Dit bou die kardiovaskulêre vermoë (fiksheid). Mens moet die perd leer om teen ’n konstante spoed te galop. Ritme is ’n groot energie-bespaarder. Terselfdertyd leer jy as ruiter hoe om die spoed te lees
- Oor die jaaggalop (gallop) gaan ek niks sê nie – dit het volgens my geen plek in die oefenprogram nie.
Lonsering
Dis nou waar ons 'n perd in die ring oefen. Baie uithouritruiters werk hulle perde op hul eie, sonder saaltuig, in die ring, met iemand wat in die middel staan en die perd aanjaag. Die gevaar hiervan is dat die perd altyd gestrek bly (sy nek vorentoe en rug hol) en dat die rugspiere, wat die ruiter se gewig moet kan hanteer, nie juis oefening kry nie.
Dis goed om nie altyd sonder hulpmiddels te lonseer nie; gebruik die saal, toom en syteuels om die perd te forseer om “rond” te werk – iets wat sy rugspiere forseer om deel te wees van die oefening en hulle sterker maak.
Interval-oefeninge
Die perd word vir ’n tydperk (interval) hard gewerk, gevolg deur ’n tydperk waartydens die intensiteit van die werk afneem sodat die perd gedeeltelik kan herstel, en dan weer 'n tydperk van harde werk, en so aan. Tydens die hersteltydperk word melksuur en ander afvalprodukte uit die liggaam verwyder.
Die tipe werk wat as “harde werk” gedoen word, moet iets wees wat mens vorentoe van die perd gaan verwag. Vir uithouritte sal mens byvoorbeeld oor ’n vaste afstand gallop, dan stap vir ongeveer dieselfde afstand, dan weer gallop. Die aantal opvolgende tydperke hang af van hoe fiks die perd is. Interval-oefening is nie deel van die vroeë oefenprogram nie, en die perd moet reeds ’n basiese vlak van fiksheid bereik het voor daar met intervalle begin kan word.
Intervalle moet so gestruktureer word dat die tydsverhouding van harde tot ligte werk begin by een hard tot twee lig. Die verhouding word aangepas soos die perd fikser word, totdat dit by twee hard en een lig kom. Moenie jaag nie! Hoe vinniger mens ry, hoe langer moet die tydperk van ligte werk word, en die verhouding kan dan selfs een hard tot ses lig word!
Kragwerk
Nee, jy hoef nie jou perd te leer gewigte optel nie! Die "apparaat" wat ons hier nodig het, is opdraandes. Werk teen opdraandes bou die spiere van die agterkwart wat nodig is om die perd vorentoe te dryf wanneer hy gallop. Kragwerk word in die formaat van interval-oefening gedoen.
Die gallop teen ’n helling op is die harde werksfase en wanneer mens dan teen die afdraande terugstap, is dit die ligte werksfase. Die tydsverhouding van harde tot ligte werk moet hier altyd in die omgewing van een hard tot ses lig wees. Waar daar nie koppe en heuwels is nie, kan mens ’n vaste afstand in los sand draf of gallop, en terugstap oor ’n harder oppervlak, of in vlak water ry as harde werk, terug oor droë grond vir die ligte werksfase.
Soepelheidsoefeninge
Hierdie is van groot belang, maar word waarskynlik die meeste afgeskeep. Die doel van soepelheidsoefeninge is om groter beweeglikheid aan die gewrigte te gee. Dit beteken dat die spierpese en ligamente wat die gewrigte bymekaarhou, meer buigsaam word. Soepel gewrigte in die bene van die perd gee meer momentum en maak dit moontlik om vir langer tydperk en groter afstande op die pad te bly.
Dit maak die tree-lengte langer en verbeter die vermoë om die skok wat gepaardgaan met die neersit van die voet met elke tree beter te absorbeer. Die beste effek word verkry wanneer mens lae krag toepas op spierpese en ligamente wat vooraf goed opgewarm is (koue spierpese en ligamente is meer geneig om te skeur). Mens kan van passiewe of dinamiese oefeninge gebruik maak.
Passiewe soepelheidsoefeninge is wanneer mens die gewrig stadig buig (’n mens gebruik jou hande om die buigwerk te doen) sover as wat dit kan gaan (as mens te vinnig probeer buig sal die spiere saamtrek en teen jou werk). Die gewrig word dan vir 20-30 sekondes in die gebuigde posisie gehou en dan stadig weer reguit gemaak. Hierdie word veral gebruik vir gewrigte wat die perd se tree-lengte bepaal soos die nek, skouer en heup. Dit kan ook gebruik word om die perd te laat ontspan en om seer spiere ná oefening beter te laat voel.
Dinamiese soepelheidsoefening is wanneer die gewrig vinnig deur sy maksimum beweging gaan terwyl die perd gery word. Dis hier waar mens ryskoolwerk met die perd doen, en waar jy draaie, sirkels, halfsirkels en laterale bewegings doen. Die gebruik van drafpale val ook in hierdie kategorie.
Mens hoef natuurlik nie in ’n ryskool te gaan ry nie – mens kan skoolwerk op enige plek doen. Kragwerk en lonsering (veral as jy hulpmiddels soos syteuels gebruik) help ook om die perd meer soepel te maak. Gebruik soepelheidsoefening as deel van jou opwarmroetine. Ry die perd eers in ’n reguit lyn totdat die spiere begin warm word, doen dan soepelheidsoefeninge en begin daarna met die res van jou oefenprogram.
Uithouritte
Uithouritte vorm ’n belangrike deel van die oefenprogram en van die voorbereiding van die uithouritperd.
Rus en herstel
Wanneer 'n perd gewerk word, vind daar mikroskopiese beskadiging van die liggaamsweefsels plaas. Rus gee die weefsels kans om te herstel en om hulself reg te maak vir die volgende oefensessie. Sonder rus word die skade geleidelik al groter totdat die betrokke spier, ligament of spierpees heeltemal ingee.
Met herstel pas die weefsels aan by die uitdaging waaraan hulle onderwerp was. Rus kan ’n dag se ligte oefening wees (soos stap of ’n kort lonseersessie) of kan wees om ’n perd in ’n groot veldkamp te laat waar hyself kan rondhol en spring, so tussen die wei en vreet deur. Moet nooit ’n perd se beweging onnodig inperk nie!
|