|
Die vakansie is verby, en die perde (wat gerus en geëet het terwyl jy op die strand baljaar het) moet
weer begin werk. Januarie word dikwels opgeneem met die “terug-skool-en-werk-toe” dinge, en
baie ruiters begin eers einde Januarie of begin Februarie weer ernstig met hul perde werk.
Februarie is een van die warm somermaande, en dis nie die
ideaal om in die hitte met ‘n half-fiks perd hard te werk nie.
Maar dis hoe dit is, en al wat ons kan doen is om versigtig te
wees en die perd te help om dit te kan hanteer.
Terwyl jy ry
- Gee jou perd kans om water te drink, oral waar daar is. Gooi
hom ook nat – vat ‘n plastiekhouer saam, en moenie ‘n
spons in die water druk nie.
- Rus as jy bo-op ‘n koppie kom of nadat julle ‘n steil
opdraande uitgery het. Staan in die koelte, gee water as
daar is, benut die koel windjie; na ‘n ruk se herstel kan jy
weer aangaan.
- Asemhalingstempo is gewoonlik een derde tot ‘n kwart
van die harttempo. Inversie – as asemhaling vinniger is as
die harttempo – beteken jou perd het dringend hulp nodig
om af te koel en die balans te herstel. Moet nie verder ry as
dit gebeur nie, koel die perd af en stap terug huis toe.
Elektroliete
- Perde wat gery word sweet. Sweet is nie net water nie –
dit bevat ‘n groot hoeveelheid elektroliete soos kalium,
natrium, chloried, magnesium en kalsium. Daar is al baie
oor elektroliete geskryf, maar dis ‘n onderwerp op sy eie.
Hou tog in gedagte dat ‘n tekort aan elektroliete kan lei
tot verskeie probleme (soos onderdrukte drinkrefleks –
die perd drink nie, al is hy gedehidreer – verswakte
bloedsomloop en gevolglike verswakte verspreiding van
suurstof en voedingstowwe deur die liggaam, bonsing
[‘thumps’], spierkrampe, spiertrillings, onreëlmatige
hartritme, dermstilstand, swak nierfunksie, en algehele
swak herstel van die perd na oefening).
- Dis noodsaaklik om elektroliete aan te vul. Baie
elektrolietprodukte is kommersieel beskikbaar, maar
kies iets wat hoofsaaklik natrium (Na), chloried (Cl),
kalium (K) en kalsium (Ca) bevat.
Koel voere
- Hitte word opgewek tydens die verteringsproses. Dis
onvermydelik, maar daar is voere (sogenaamde ‘koel voere’)
wat daarop gemik is om hierdie hitte tot die minimum te
beperk.
- Die graan (soos hawer) wat as bestanddele gebruik word,
word tydens die vervaardigingsproses aan spesifieke
prosesse (soos mikronisering) blootgestel wat dit makliker
verteerbaar maak. Minder hitte word dan tydens vertering
opgewek, en minder van die graan beland in die dikderm,
waar stysel nie deur ensieme verteer word nie, maar
gefermenteer word, en fermentasie produseer baie hitte.
- Meer vet word in die “koel” voere gebruik. Vet word maklik
in die dunderm verteer en daar word bykans geen hitte gevorm tydens die verteringsproses nie.
|