Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Veldlangs saam met Cowboy

deur Carin Hoffman

Ek het altyd daarvan gedroom om op ‘n perd in die veld rond te ry, totdat ek eendag op ‘n advertensie afgekom het by ‘n veearts se spreekkamer: “Golden Eagle Perderitte, 30 km buite Bloemfontein op die N1 in die rigting van Kroonstad. Ry tussen wildsbokke, rante en klowe op goed-afgerigte perde. Maanlig-ritte in die somer. Geniet die buitelewe op ‘n perd se rug.”

In die foto: Die plesierrit van ongeveer twee ure strek tussen en oor die rantjies, klowe, doringbome,

Die plesierrit van ongeveer twee ure strek tussen en oor die rantjies, klowe, doringbome, bosse, witstinkhout-bome, wild en oor verskeie aangrensende plase

Ek het sommer gou ‘n perd bespreek vir die eerste beskikbare Saterdag. Aangesien ek al by verskeie plekke in Bloemfontein gaan ry het, was ek maar meer van dieselfde te wagte. Gewoonlik ry mens maar net in ‘n klein kampie op ‘n plot – as jy gelukkig is kan jy dalk op die buurman se plot ook ry. Dan durf jy ook nie uit die ry gaan nie, want jou perd loop net agter ‘n sekere perd.

Kry jou perd

Met aankoms word jy vriendelik ontvang deur Cowboy en Anne-Marie (en die twee foksterriërs), waarna jy jou naam op ‘n wit veselglas-donkie gaan skryf. Dan word die pragtige perde aan jou gewys en voorgestel. (Dit is werklik van die mooiste, bes-versorgde perde wat ek nog ooit gesien het.) Jy kry kans om met jou perd te “bond” voor die rit. Jy kan selfs bystaan met die opsaal van die perde –cowboy-saals, natuurlik. Jy word absoluut deel gemaak van alles.

Sodra elkeen se perd gereed is, word daar seker gemaak dat almal gemaklik is. Daar word seker gemaak dat die stiebeuels lank genoeg is en dat die buikgorde styf genoeg vasgemaak is. Dan word die stuurmetode aan jou verduidelik.

Leer die taal

Voor die rit begin, word die “veldtaal” en rystyl aan jou verduidelik. Die “veldtaal” is nou die handgebare wat gebruik word om gate in die veld uit te wys. Die ruiter voor jou wys met sy/haar haar hand na waar die gat is dan moet jy dit weer vir die een agter jou wys. Die rystyl is Western en die aanhits en stop word aan jou verduidelik. Dan begin die plesierrit, van omtrent twee ure tussen en oor die rantjies, tussen die klowe, doringbome, bosse, witstinkhoutbome, wild en oor verskeie aangrensende plase.

Om tussen ‘n trop swartwitpense te ry is absoluut fantasties; geen mens kan so naby die wild kom as te perd nie. Selfs die vlakvarke en steenbokkies is soveel rustiger as mens te perd tussen hulle ry. Elke geskiedkundige deel (soos byvoorbeeld die graf van die soldaat in die Boereoorlog) word aan jou vertel. Cowboy deel ook sy kennis van die natuur met jou. Daar word voortdurend tydens die rit na jou omgesien. Met die terugkeer ná die heerlike rit, word die perde afgesaal en elkeen kry kans om sy perd in die kampie met wortels te bederf en te groet.

Cowboy Kleinhans (regs), eienaar van Golden Eagle Trail Rides, saam met ‘n besoeker

Cowboy Kleinhans (regs), eienaar van Golden Eagle Trail Rides, saam met ‘n besoeker

Die watergat

Maar nog is’t einde niet, want nou beweeg almal na die Golden Eagle Saloon, waar jy vriendelik ingenooi word om ‘n heerlike koppie koffie, tee of ‘n koeldrank te geniet. Hier word jy omring met foto’s van perde, foto’s van ritte wat gery was en ‘n paar grappige stories teen die mure. Dan is daar die ou lekker stofie wat die winterkoue wegbrand. Die cowboysaal in die hoek met die tou waarmee daar beeswerk gedoen was, is deel van die warm atmosfeer in die saloon. Hier word rustig gesit en gesels oor lekker perdrystories.

Die kuiersessie is sommer ook die tyd wanneer jy jou volgende rit bespreek.

Regs: Daar is niks soos ’n lekker koppie cowboy-koffie voor mens vroegoggend wegspring nie

Daar is niks soos ’n lekker koppie cowboy-koffie voor mens vroegoggend wegspring nie

Die volgende rit Geen rit by Golden Eagle is ooit dieselfde nie. Elke rit is besonders, want daar is soveel verskillende roetes wat gery word. Ons ry in feitlik enige weersomstandighede en soms word ons bederf met ‘n braai of lekker cowboy-koffie. Soms klim ons af van ons perde en lê sommer in die veld terwyl jou perd langs jou wei.

Daar is ‘n perd vir elke tipe ruiter en daar is uiters gewilde lang roetes wat gewoonlik in die winter gery word, en oor baie kilometers strek – omtrent ‘n halwe dag op jou perd se rug. Die rit strek ook oor verskeie aangrensende plase.

Onder die maan

Die gewilde maanlig-ritte vind meestal in die somer tydens vol- of heldermaan plaas. Dit is ‘n rustiger rit en die perde word gewoonlik so teen sewe-uur die aand opgesaal. En wat is ‘n maanligrit dan nou ook as sonder ‘n lekker cowboykoffie in die donker veld ...

Vir meer inligting omtrent Golden Eagle se ritte, skakel 082 313 0210 of besoek www.goldeneagletrailrides.co.za

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.