|
Die SA Vlaamperdtelersgenootskap is in 1983 gestig. Daar is met groot belangstelling weggespring met die teel van Vlaamperde, maar na ‘n paar jaar het die belangstelling vervaag en amper gestagneer. Vroeg in 2000 het nuwe lede egter betrokke geraak en nuwe lewe in die genootskap geblaas. Sedertdien het die sowat eenhonderd perde wat in daardie stadium aangeteken was, verdubbel. Vandag staan die aktiewe ledetal op 35 teenoor destyds se skamele elf lede.
Die Vlaamperd word tans beskou as ‘n ontwikkelende ras, wat beteken dat telers nog van vreemde bloed gebruik kan maak om die ras te verbeter en die klein genepoel te vergroot en verbeter.
Veeldoeligheid
Die Vlaamperd is bekend as ‘n lae onderhoudsperd. Dit is ook ‘n veeldoelige perd met ‘n onverbeterlike temperament. Veeldoelig verwys na die perd se vermoë om as kar-, ry- en plesierperd aangewend te word. By die ras se skoue word hulle as driegang ryperde, enkeltuig-, dubbeltuig-, siertuig-, tandem- en karperde, vier-span en, die beste van alles, agt-spanne vertoon.
Die perde word in verskeie klasse deur dames en kinders vertoon. Die damesdubbeltuig is ‘n gewilde skouklas en bevestig ons perde se goeie temperament. Persoonlik reken ek dat die Vlaamperd ook goed sal vaar as dreseerperd, maar ons het nog nie veel bemarking in daardie rigting gedoen nie.
Die Vlaamperd is nie ‘n baie bekende ras nie, alhoewel hy ‘n Suid-Afrikaans geteelde perd is. Sy onbekendheid kan daaraan toegeskryf word dat daar in die verlede nie veel oor die Vlaamperd geskryf is nie. Hierdie is ‘n probleem wat aktief deur die genootskap aangespreek moet word.
Vlaam of Fries?
Daar bestaan by baie mense die persepsie dat die SA Vlaamperd en SA Friesperd een en dieselfde dier is. Dit is nie die geval nie. Die Vlaamperd se naam is afkomstig van die feit dat die Hollandse Fries uit die hawe van Antwerpen in Vlaandere ingevoer is. Die Vlaamperd is ook nie verwant aan die Belgiese ‘Flemish Horse’ nie. In Engels staan die Vlaamperd bekend as die SA Vlaam Horse.
Die SA Vlaamperd is wel ontwikkel uit die Hollandse Fries en verskeie ander plaaslike rasse. Die ontwikkeling het onwetend in die vroeë 1900’s begin, toe ingevoerde Frieshingste uit België ingevoer is. Uit daardie telings is daar in die laat 1930’s ‘n hings met die naam Scheepers geteel. Scheepers het ‘n groot bydrae tot die teel van die SA Vlaamperd gemaak.
Bolandse waperde
Die meeste van hierdie telings het in die Boland en Wes-Kaap plaasgevind. Dit is waarom die Vlaamperd in ‘n stadium as die Bolandse waperd bekend gestaan het. In daardie jare is die swart perd op graanlande gebruik om die waens te trek. Die Vlaamperd was toe hoofsaaklik as werksperd gebruik. Deesdae word die Vlaamperd vir plesier en skoue gebruik, en teel ons hulle inderdaad vir skou en plesier. Tog bly sy gebruik as waperd uniek en trek dit groot skares, veral wanneer spanne van agt voor die wa ingespan word.
Besoek gerus die SA Vlaamperd nasionale kampioenskappe in Moorreesburg van 7 tot 10 September 2011 en ontmoet hierdie pragdiere in lewende lywe.
|