|
Hy dink aan homself as ‘n Suid-Afrikaanse vaquero. ‘n Perdeman in murg en been, met ‘n aanvoeling en grondige kennis van hoe ‘n perd se kop werk. Sy naam is Anton Retief en hy
is nie alleen as perdeafrigter bekend nie, maar ook vir sy kunstige leerversierwerk.

“Die vaquero-konsep fassineer my en ek voel dat wat ek doen presies in lyn is met die tradisionele Vaquero-benadering.”
Die vaquero was eerstens perdemeester en ook meester met die rouriem vangtou of reata wat gewoonlik twintig meter of selfs langer was. Om egter met die vangtou goed te wees, beteken niks as jou perd nie hoogs opgelei is om die regte dinge op die regte tyd te doen sodat jy dit wat jy gevang het, kan manipuleer nie. Dit het dus vir ‘n hoogs opgeleide perd gevra wat blitsvinnig op baie ligte tekens kon reageer. Dis hierdie ligtheid en hoë vlak van afrigting wat vir hom so aanloklik is.
Spesialiteit
Hy is ‘n professionele perde-afrigter, maar, sê hy, omdat hy tans soveel werk het, moet hy spesialiseer.
“Ek haal basies die ‘vlug’ uit die perd uit en besorg aan sy eienaar ‘n dier wat sag en aanvaardend is, en waarmee hy gemaklik in enige dissipline verder kan gaan.”
Hoewel hy verkies dat die perde na hom toe kom waar hy op Bronkhorstspruit woon, is dit vir ‘n groot stoetery soos die SA Boerperdstoet van Manie Hancke by Bethal, of die Nooitgedachterstoet van Braam Olivier by Villiers, of die Apalloosa-stoet van Claire Amm by Ladybrand, doodgewoon onprakties.
“Een van die grootste probleme om so van plaas tot plaas
te gaan, is dat almal nie fasiliteite het wat goed genoeg is
sodat ek my werk behoorlik kan doen nie. As ‘n absolute
minimum moet die plaas ten minste ‘n goeie ring hê wat
met stewige pale omhein is.”
Benadering
Sy benadering tot afrigting, sê hy, kan basies deur die volgende
leuse opgesom word: so sag as moontlik, maar so ferm as
nodig. Die basis van sy opleiding is om homself as goeie leier
van die perd te vestig. Dit doen hy deur die bene van die perd
te beweeg. Die meeste van die probleemperde waarmee hy te
doen kry, ondervind ’n gebrek aan goeie leierskap.
“Ek maak dit wat ek wil hê hy moet doen so maklik moontlik,
terwyl ek die ander opsies so moeilik as moontlik maak. Daar moet
genoeg druk op die perd uitgeoefen word, sodat hy gemotiveerd
is om na antwoorde te soek. En as die perd eers gesnap het dat
hy verligting kry as hy net lank genoeg na ‘n antwoord soek , dan
raak dit vir hom al makliker en leer hy al vinniger.”
Die grondbeginsel, beklemtoon hy, is dat ‘n perd leer
wanneer die druk weggeneem word. Dis sy beloning en dis
wat hy onthou.
Opleidingsfases
Anton verdeel sy opleiding in twee hoof-fases, naamlik
grondwerk, en dan die ruiter-fase.
“As ek met die grondwerkfase begin, onderskei ek tussen
twee basiese tipe perde waarmee ek te doen kry. Daar is die
groep wat nog nooit regtig met ‘n menslike hand te doen gekry
het nie, en die groep wat eintlik onder die mense se voete
grootgeword het. Die mak perd het tipies in ‘n stal-omgewing
grootgeword en die vlug is lankal nie meer in sy lyf nie.
“Wat die wilde perde betref, is my benadering om hulle
eerstens in die ring met ’n tou te vang. Die gewaarwording dat
hy nou vas is, al is die mens doer anderkant, is ‘n belangrike
oomblik in die perd se lewe. Daarmee saam moet mens hom
egter so gou moontlik tot bedaring bring, sodat hy besef dat
hy nie in doodsgevaar is nie. Hierdie is ook die eerste les in
toegee vir druk.”
“In hierdie eerste reeks lesse is daar drie belangrike goed
wat die perd moet leer. Die eerste is dat hy van punt A na punt
B gelei moet kan word. Die tweede is dat hy moet bereid wees
om stil te staan. Die nie-stilstaan van ‘n perd is, wat my betref
die wortel van alle kwaad.
“Die derde ding gaan direk oor die vlug uit sy lyf haal. Jy
moet van albei kante aan hom kan vat, van die punt van sy bek
tot die punt van sy stert. “
Raak gewoond
Die volgende stap is om die perd aan verskillende dinge
gewoond te maak. ‘n Inkopiesak of vlaggie van raserige plastiek
is ideaal hiervoor. Vrommel dit eers in ‘n klein bondeltjie en vryf
die perd daarmee oor sy lyf. Maak dan die plastiek gaandeweg
groter oop, totdat die perd glad nie omgee as die sak op enige
manier op en langs sy lyf gebruik word nie.
“Die Amerikaners noem hierdie proses ‘sacking out’. Die
idee is doodgewoon dat die perd vertroue in jou en in sy
omgewing kry en besef dat daar niks is waarvoor hy bang
hoef te wees nie. Maak die uitdaging gaandeweg nog groter –
gebruik ‘n voersak en dalk ‘n grondseil of sambreel, maar moet
nooit die spronge so groot maak dat dit die perd intimideer
nie. Dis krities dat die perd nooit hierdie proses met pyn assosieer nie.”
Nou vir die ruiterfase
“Ek het ‘n teorie dat ‘n perd net vir drie redes spring. Die eerste
is doodgewoon om ontslae te raak van die ongemak van die
buikgord as hy nie daaraan gewoond is nie. Die ander het te
doen met hoe hy kan sien. Die perd kan net 345 grade om
hom kan sien. Hy het ‘n blinde kol reg agter hom – reg op sy
rug. Dit kan daartoe lei dat hy skrik vir die gedoente agter
hom op sy rug wat hy nie kan sien nie. Hy wil weghardloop en
spring dan om van die goed weg te kom.
“As jy die perd dus deeglik gewoond maak aan hierdie
twee goed, die buikgord en die goed in sy blinde kol, sal jy
vind dat nege uit tien perde glad nie spring nie.”
Die derde rede gaan oor die oorgange tussen stap, draf en
galop, wanneer ’n perd ook moontlik kan spring.
Die stang
Mens moet baie deeglik daarmee rekening hou dat die perd
se bek tot op ouderdom vyf jaar drasties verander. Daarom, sê Anton, is hy lief daarvoor om gedurende die eerste ryfase nie
‘n stang in die perd se bek te sit nie. Hy werk graag met die
sogenaamde Jaquima, die Spaanse term waarvan die Engelse
woord hackamore afgelei is. ‘n Hackamore is in wese ‘n halter
met ‘n spesiale swaar en stywe neusstuk, die bosal.
“Die perd gaan dus sy eerste fase van afrigting in die
Jaquima deur, en leer die tekens op sy neus wat later na die
stang in die bek verplaas sal word. Die voordeel hiervan is dat
die bek ongeskonde bly. Sou die perd byvoorbeeld onverwags
skrik (en dit gebeur maar in die loop van die afrigting), kan ek
maar hard vat aan die teuel (eintlik ‘n tou, genoem ‘n mecate in
die geval van ‘n Jaquima) sonder die gevaar dat die bek gaan seerkry.”
Die werking van die Jaquima in vergelyking met die trens,
verduidelik Anton, het te doen met waar die perd vir die
drukking fleks.
“As die trens korrek gebruik word, fleks die perd net agter sy
ore. As die Jaquima egter korrek gebruik word, fleks die perd
by sy kambeen. Dit, vertel die ou vaquero’s my, veroorsaak dat
die perd sy hele lyf, en veral sy maagspiere, in werking stel, wat
tot gevolg het dat sy agterkwart direk geaktiveer word en sy
rug opgetel word. En dit is die basis van korrekte fleksie.”
Blootstelling
Anton glo vas dat die jong perd so gou moontlik buite gery
moet word.
“Dit hang natuurlik baie af van die omgewing waarin
die perd aangehou word. Die jong perd moet so gou hy
verstaan wat die basiese tekens beteken, in die geselskap van
‘n ou, gesoute perd uitgery word. Dis nou wanneer hy met
allerhande goed in kontak kom soos om deur ‘n stroom water
te loop, goed wat op die grond waai, en belangrik, waar hy sy
balans moet aanpas as hy op en af moet gaan met ‘n ruiter op
sy rug.”
Die kuns van perde afrig, sê hy, is om elke perd te lees vir
die individu wat hy is.
Leerwerk en vlegwerk
 |
‘n Voorbeeld van Anton
se vakmanskap
|
Een van Anton se ander passies is vlegwerk, wat
leervlegwerk insluit. Hy knoop en bemark onder andere
touhalters. Hierdie touhalters is heeltemal metaalvry, wat
beteken dat hulle maklik gewas kan word, en ook nie die
perde kan seermaak nie.
“Ek fokus nie soseer op die vleg met leer nie, maar eerder
die verfraaiing van bestaande leerartikels. Hiervoor het ek
kursusse in Amerika gaan bywoon, en terselfdertyd ook
sommer gaan kyk hoe regte vaquero’s leef en met perde werk.
“Een ding wat ek daar anderkant besef het, is dat ons
Suid-Afrikaners heeltemal te haastig is. Volgens die vaquero’s
is twee dinge belangrik as dit by perde kom: jy moet tyd hê
en jy moet geduld hê. Waar ons hier verwag dat ‘n perd in
rekordtyd onder die saal moet kom en gereed moet wees vir
werk, is die vaquero’s geduldig. Hulle belê baie tyd en geduld
in die ontwikkeling en afrigting van hulle perde, en ook in die
maak en verfraaiing van hulle saaltuig.”
Die resultaat hiervan is ‘n trotse tradisie van ruiterskap
en kuns. Gemeet hieraan, is Anton Retief sekerlik een van
net ‘n handjievol ware vaquero’s in Suid-Afrika.
Anton bied lesings en demonstrasies regoor die land
aan. Skakel hom by 083 533 0803 of 013 932 0708.
|