Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

‘n Perdeman in murg en been
deur Izak Hofmeyr

Hy dink aan homself as ‘n Suid-Afrikaanse vaquero. ‘n Perdeman in murg en been, met ‘n aanvoeling en grondige kennis van hoe ‘n perd se kop werk. Sy naam is Anton Retief en hy is nie alleen as perdeafrigter bekend nie, maar ook vir sy kunstige leerversierwerk.

“Die vaquero-konsep fassineer my en ek voel dat wat ek doen presies in lyn is met die tradisionele Vaquero-benadering.”

Die vaquero was eerstens perdemeester en ook meester met die rouriem vangtou of reata wat gewoonlik twintig meter of selfs langer was. Om egter met die vangtou goed te wees, beteken niks as jou perd nie hoogs opgelei is om die regte dinge op die regte tyd te doen sodat jy dit wat jy gevang het, kan manipuleer nie. Dit het dus vir ‘n hoogs opgeleide perd gevra wat blitsvinnig op baie ligte tekens kon reageer. Dis hierdie ligtheid en hoë vlak van afrigting wat vir hom so aanloklik is.

Spesialiteit

Hy is ‘n professionele perde-afrigter, maar, sê hy, omdat hy tans soveel werk het, moet hy spesialiseer.

“Ek haal basies die ‘vlug’ uit die perd uit en besorg aan sy eienaar ‘n dier wat sag en aanvaardend is, en waarmee hy gemaklik in enige dissipline verder kan gaan.”

Hoewel hy verkies dat die perde na hom toe kom waar hy op Bronkhorstspruit woon, is dit vir ‘n groot stoetery soos die SA Boerperdstoet van Manie Hancke by Bethal, of die Nooitgedachterstoet van Braam Olivier by Villiers, of die Apalloosa-stoet van Claire Amm by Ladybrand, doodgewoon onprakties.

“Een van die grootste probleme om so van plaas tot plaas te gaan, is dat almal nie fasiliteite het wat goed genoeg is sodat ek my werk behoorlik kan doen nie. As ‘n absolute minimum moet die plaas ten minste ‘n goeie ring hê wat met stewige pale omhein is.”

Benadering

Sy benadering tot afrigting, sê hy, kan basies deur die volgende leuse opgesom word: so sag as moontlik, maar so ferm as nodig. Die basis van sy opleiding is om homself as goeie leier van die perd te vestig. Dit doen hy deur die bene van die perd te beweeg. Die meeste van die probleemperde waarmee hy te doen kry, ondervind ’n gebrek aan goeie leierskap.

“Ek maak dit wat ek wil hê hy moet doen so maklik moontlik, terwyl ek die ander opsies so moeilik as moontlik maak. Daar moet genoeg druk op die perd uitgeoefen word, sodat hy gemotiveerd is om na antwoorde te soek. En as die perd eers gesnap het dat hy verligting kry as hy net lank genoeg na ‘n antwoord soek , dan raak dit vir hom al makliker en leer hy al vinniger.”

Die grondbeginsel, beklemtoon hy, is dat ‘n perd leer wanneer die druk weggeneem word. Dis sy beloning en dis wat hy onthou.

Opleidingsfases

Anton verdeel sy opleiding in twee hoof-fases, naamlik grondwerk, en dan die ruiter-fase. “As ek met die grondwerkfase begin, onderskei ek tussen twee basiese tipe perde waarmee ek te doen kry. Daar is die groep wat nog nooit regtig met ‘n menslike hand te doen gekry het nie, en die groep wat eintlik onder die mense se voete grootgeword het. Die mak perd het tipies in ‘n stal-omgewing grootgeword en die vlug is lankal nie meer in sy lyf nie.

“Wat die wilde perde betref, is my benadering om hulle eerstens in die ring met ’n tou te vang. Die gewaarwording dat hy nou vas is, al is die mens doer anderkant, is ‘n belangrike oomblik in die perd se lewe. Daarmee saam moet mens hom egter so gou moontlik tot bedaring bring, sodat hy besef dat hy nie in doodsgevaar is nie. Hierdie is ook die eerste les in toegee vir druk.”

“In hierdie eerste reeks lesse is daar drie belangrike goed wat die perd moet leer. Die eerste is dat hy van punt A na punt B gelei moet kan word. Die tweede is dat hy moet bereid wees om stil te staan. Die nie-stilstaan van ‘n perd is, wat my betref die wortel van alle kwaad.

“Die derde ding gaan direk oor die vlug uit sy lyf haal. Jy moet van albei kante aan hom kan vat, van die punt van sy bek tot die punt van sy stert. “

Raak gewoond

Die volgende stap is om die perd aan verskillende dinge gewoond te maak. ‘n Inkopiesak of vlaggie van raserige plastiek is ideaal hiervoor. Vrommel dit eers in ‘n klein bondeltjie en vryf die perd daarmee oor sy lyf. Maak dan die plastiek gaandeweg groter oop, totdat die perd glad nie omgee as die sak op enige manier op en langs sy lyf gebruik word nie.

“Die Amerikaners noem hierdie proses ‘sacking out’. Die idee is doodgewoon dat die perd vertroue in jou en in sy omgewing kry en besef dat daar niks is waarvoor hy bang hoef te wees nie. Maak die uitdaging gaandeweg nog groter – gebruik ‘n voersak en dalk ‘n grondseil of sambreel, maar moet nooit die spronge so groot maak dat dit die perd intimideer nie. Dis krities dat die perd nooit hierdie proses met pyn assosieer nie.”

Nou vir die ruiterfase

“Ek het ‘n teorie dat ‘n perd net vir drie redes spring. Die eerste is doodgewoon om ontslae te raak van die ongemak van die buikgord as hy nie daaraan gewoond is nie. Die ander het te doen met hoe hy kan sien. Die perd kan net 345 grade om hom kan sien. Hy het ‘n blinde kol reg agter hom – reg op sy rug. Dit kan daartoe lei dat hy skrik vir die gedoente agter hom op sy rug wat hy nie kan sien nie. Hy wil weghardloop en spring dan om van die goed weg te kom.

“As jy die perd dus deeglik gewoond maak aan hierdie twee goed, die buikgord en die goed in sy blinde kol, sal jy vind dat nege uit tien perde glad nie spring nie.”

Die derde rede gaan oor die oorgange tussen stap, draf en galop, wanneer ’n perd ook moontlik kan spring.

Die stang

Mens moet baie deeglik daarmee rekening hou dat die perd se bek tot op ouderdom vyf jaar drasties verander. Daarom, sê Anton, is hy lief daarvoor om gedurende die eerste ryfase nie ‘n stang in die perd se bek te sit nie. Hy werk graag met die sogenaamde Jaquima, die Spaanse term waarvan die Engelse woord hackamore afgelei is. ‘n Hackamore is in wese ‘n halter met ‘n spesiale swaar en stywe neusstuk, die bosal.

“Die perd gaan dus sy eerste fase van afrigting in die Jaquima deur, en leer die tekens op sy neus wat later na die stang in die bek verplaas sal word. Die voordeel hiervan is dat die bek ongeskonde bly. Sou die perd byvoorbeeld onverwags skrik (en dit gebeur maar in die loop van die afrigting), kan ek maar hard vat aan die teuel (eintlik ‘n tou, genoem ‘n mecate in die geval van ‘n Jaquima) sonder die gevaar dat die bek gaan seerkry.”

Die werking van die Jaquima in vergelyking met die trens, verduidelik Anton, het te doen met waar die perd vir die drukking fleks.

“As die trens korrek gebruik word, fleks die perd net agter sy ore. As die Jaquima egter korrek gebruik word, fleks die perd by sy kambeen. Dit, vertel die ou vaquero’s my, veroorsaak dat die perd sy hele lyf, en veral sy maagspiere, in werking stel, wat tot gevolg het dat sy agterkwart direk geaktiveer word en sy rug opgetel word. En dit is die basis van korrekte fleksie.”

Blootstelling

Anton glo vas dat die jong perd so gou moontlik buite gery moet word.

“Dit hang natuurlik baie af van die omgewing waarin die perd aangehou word. Die jong perd moet so gou hy verstaan wat die basiese tekens beteken, in die geselskap van ‘n ou, gesoute perd uitgery word. Dis nou wanneer hy met allerhande goed in kontak kom soos om deur ‘n stroom water te loop, goed wat op die grond waai, en belangrik, waar hy sy balans moet aanpas as hy op en af moet gaan met ‘n ruiter op sy rug.”

Die kuns van perde afrig, sê hy, is om elke perd te lees vir die individu wat hy is.

Leerwerk en vlegwerk

‘n Voorbeeld van Anton

‘n Voorbeeld van Anton se vakmanskap

Een van Anton se ander passies is vlegwerk, wat leervlegwerk insluit. Hy knoop en bemark onder andere touhalters. Hierdie touhalters is heeltemal metaalvry, wat beteken dat hulle maklik gewas kan word, en ook nie die perde kan seermaak nie.

“Ek fokus nie soseer op die vleg met leer nie, maar eerder die verfraaiing van bestaande leerartikels. Hiervoor het ek kursusse in Amerika gaan bywoon, en terselfdertyd ook sommer gaan kyk hoe regte vaquero’s leef en met perde werk.

“Een ding wat ek daar anderkant besef het, is dat ons Suid-Afrikaners heeltemal te haastig is. Volgens die vaquero’s is twee dinge belangrik as dit by perde kom: jy moet tyd hê en jy moet geduld hê. Waar ons hier verwag dat ‘n perd in rekordtyd onder die saal moet kom en gereed moet wees vir werk, is die vaquero’s geduldig. Hulle belê baie tyd en geduld in die ontwikkeling en afrigting van hulle perde, en ook in die maak en verfraaiing van hulle saaltuig.”

Die resultaat hiervan is ‘n trotse tradisie van ruiterskap en kuns. Gemeet hieraan, is Anton Retief sekerlik een van net ‘n handjievol ware vaquero’s in Suid-Afrika.

Anton bied lesings en demonstrasies regoor die land aan. Skakel hom by 083 533 0803 of 013 932 0708.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.