Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Krisis!!
deur Paul van Dam

Die ondenkbare het gebeur! Netnou nog was jy rustig op pad, perdewa agter die bakkie, en in jou gedagtes was jy besig om ritstrategie uit te werk ... die volgende oomblik is jy in die veld. Jou bakkie en perdewa lê albei op hul sy, jy hang half skeef in jou sitplekgordel en wonder wat het gebeur. Wat nou?

Niemand kan vir jou ‘n stap-vir-stap gids gee van wat jy kan doen as so iets gebeur nie. Maar daar is ‘n paar algemene beginsels wat ‘n mens kan toepas.

  • Bly kalm! Hoe moeilik dit ook al is, gebruik die eerste paar minute om jouself te vind en logies te probeer dink.
  • Sien eerste om na die mense wat saam met jou in die ongeluk was. Ons is almal lief vir ons perde, maar kan nie ‘n perd se lewe teen dié van ‘n mens opweeg nie.
  • Voor jy enigiets doen, stel eers ondersoek in.
    • Kyk of daar ‘n brandgevaar is; indien wel, wees baie versigtig. Moenie jouself in gevaar stel nie.
    • Kyk na die perdewa
      • Hoe het dit tot stilstand gekom? Gaan jy by die laaideur kan uitkom, en dit moontlik kan oopmaak?
      • Gaan dit moontlik wees om die perdewa regop te trek?
      • Kyk deur die openinge en vensters, en stel vas hoe die perde staan of lê.
    • Beplan wat jy gaan doen!
    • As jy alleen is, kry eers hulp.
  • Indien dit veilig gedoen kan word, sal dit help as iemand wat die perde ken, by hulle in die perdewa klim en hulle probeer kalmeer.
  • Dis belangrik om die perde te beheer. Sit halters aan.
  • As jy hooi by jou het, gebruik dit as kussingmateriaal en probeer om die onderste perde daarmee te beskerm.
  • Trek die perdewa regop, indien moontlik. Die perde sal dalk rondtrap terwyl jy die wa regop trek, en die onderste perde raak trap, maar dis steeds eerste prys om die perde te kan uitlaai uit ‘n wa wat op sy wiele staan.
  • As die wa nie regop getrek kan word met perd en al nie, moet jy probeer om die laaideur van die perdewa oop te maak soos wat dit lê.
  • Verwyder alle los goed (emmers, bakke, voerbale, ens.) wat dalk in jou pad kan wees as jy die perde wil uitlaai.
  • As die deur nie kan oop nie, maak dit jou probleem groter. Jy sal dan met hamer, koevoet en ander gereedskap moet probeer om die deur en wa so te buig/sny/breek dat die deur wel kan oop. Dis hoogs onwaarskynlik dat jy ‘n kragopwekker en kraggereedskap by jou gaan hê, maar as dit byderhand is, gebruik dit! ONTHOU – voor jy begin hamer of sny, druk eers watteproppe in die perde se ore, sodat die lawaai hulle nie verder ontstel nie.
  • Moenie kalmeermiddels gebruik as dit nie definitief nodig is nie – hou dit as die heel laaste uitweg. ‘n Perd wat onder verdowing is kan nie sy voete akkuraat neersit nie, sal makliker struikel en in die proses die onderste perd meer seermaak as wat sou gebeur het as hy nie verdoof was nie. As kalmering aangedui is, begin eers net met die perd wat onder lê. As jy met kraggereedskap gaan werk, sal dit waarskynlik noodsaaklik wees om die perde lig te verdoof.
  • As die deur oop is, laai die perde uit. Ondersoek elke perd en bepaal hoe ernstig die beserings is. Perde kom dikwels wonderbaarlik ongeskonde uit so ‘n ongeluk, maar die risiko van besering is altyd daar. Moenie oorhaastig besluite neem, of toelaat dat ander oorhaastig namens jou besluite neem nie. Dis so dat ‘n gebreekte been gewoonlik die einde van ‘n perd se sportloopbaan beteken, maar dit hoef nie noodwendig die einde van sy lewe te wees nie (afhangend natuurlik van die graad en posisie van die fraktuur).

Moet nooit die perd onnodig laat ly nie en, as die beserings ernstig is, moenie die onvermydelike uitstel nie. Wees bereid om die besluit te neem om die perd uit sy lyding te verlos.

Ons hoop dat so iets nooit met jou sal gebeur nie!

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.