Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Uit die perd se bek / From the horse's mouth
Izak Hofmeyr

Nuwe jaar, nuwe baadjie

Die jaar 2011 is nog ‘n waterskeidingsjaar vir SA Horseman. Heel gepas is dit dat ons ná vyf jaar in A5 formaat nou verander na A4. In ons sesde jaar, kan jy maar sê, is ons nou besig om groot te word.

Die tweede rede waarom 2011 so belangrik is, is dat ons nou regoor die land beskikbaar is. Met meer as 600 afsetpunte, hoofsaaklik op die platteland, glo ons dis nou moontlik dat enige persoon wat die tydskrif wil koop, toegang daartoe sal hê. Sedert ons SA Horseman se sustertydskrif, Veeplaas, in Junie verlede jaar geloods het, het ons span verskriklik hard gewerk om seker te maak dat ons tydskrifte oral beskikbaar is. As daar plekke is waar u nie ons tydskrifte kan opspoor nie, laat ons asseblief weet.

Wat die karakter van SA Horseman egter betref, verander niks. Met ons eerste uitgawe in 2006 het ons dit duidelik gemaak dat dit oor horsemanship gaan. Perdemeesterskap. Dit gaan nie soseer oor die resultaat van ‘n afrigtingsprogram, soos gemanifesteer in kompetisie-uitslae nie, maar veel eerder oor die afrigting self. Ons glo dat basiese goeie afrigtings- en bestuursbeginsels in plek moet wees sonder dat dit saak maak waarvoor die perd aangewend word.

Ons definisie van ‘n goeie perdemeester is iemand wat voortdurend soek na beter antwoorde, beter metodes, beter begrip vir hulle perde. Iemand wat nooit uit die oog verloor dat ‘n perd ‘n perd is, en nie ‘n mens nie, en binne daardie konteks die heel beste vir hulle perde wil gee, hetsy in die stal, die afrigtingsarena of kompetisie. Dit is met hierdie definisie in gedagte dat ons die artikels selekteer wat in SA Horseman gepubliseer word.

In hierdie uitgawe kyk ons na die in- en uitvoer van perde en ons gee wenke oor hoe om hulle veilig te vervoer. Ons kyk terug na die 2010 Derby en ons beskou nuwe tegnologie om perde se moontlike prestasie te voorspel. Ons kyk ook na die voorkoming van koliek. Ons sit ons reeks vir ons jong perdemeesters voort en kuier by afrigter, Anton Retief, waar ons hoor hoe hy ‘n perd benader.

Lekker lees en laat weet ons gerus wat julle van ons nuwe voorkoms dink!

Groete, Izak

 

Izak Hofmeyr Izak Hofmeyr

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.