Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Die junior perdemeester - Deel 6

Grondwerk volgens perdgerigte ruiterskap

deur Elna Wahl, Mooikrans Equus

Met grondwerk verwys ons na die werk wat jy met jou perd doen terwyl jy op jou voete staan en nie op sy rug is nie. Die voordeel van grondwerk is dat jy jou perd baie kan leer, sonder dat dit enige gevaar vir jou inhou. Jy kan jou perd nuwe gedrag leer en slegte gedrag afleer. Doen grondwerk in ‘n ring of geslote ruimte. ‘n Ring is die beste, omdat jou perd dan altyd dieselfde afstand van jou af is en daar nie hoeke is waarin hy tot stilstand kan kom nie.

Kom ons begin

Kry jou perd se aandag. Jy moet die rede wees waarom jou perd iets wil leer. As jy reeds sy vertroue gewen het, sal hy sy bes doen om te verstaan wat jy hom wil leer. Wees ontspanne. Hy sal jou liggaamstaal lees en dit sal hom kalmeer. Kyk weg, laat die skouers hang, staan op een been en kom stadig sywaarts nader.

Laat die perd toe om aan jou te ruik. Vryf met ‘n haltertou oor sy hele lyf, laat wip die tou oor sy rug en oor sy boude. Laat hom ‘n paar treetjies tru. Strek sy nek deur jou elmboog teen sy nek-aansluiting bokant sy borskas te druk en met die ander hand op sy neus, sy kop stadig na jou te draai terwyl jy effens terugstaan. Doen die oefening aan albei kante. Perde is soms stywer na een kant as die ander.

Vestig jou self as leier. Wees streng en konsekwent in jou optrede. Hou ‘n lang peits in jou hand en dryf jou perd in die rondte. Beweeg voor jou perd in om sy rigting te verander. Stop jou perd deur “whoa” te sê en terselfdertyd die druk af te haal sodat hy stop. Wanneer julle dan in die veld ry, weet hy wat “whoa” beteken.

Dryf jou perd weg

Talle boeke oor “natural horsemanship” beskryf die join-up of lock-on. Op Mooikrans praat ons van die knoop, omdat jy met hierdie proses ‘n verhouding met jou perd aanknoop. Dryf jou perd weg van jou en hou aan om hom in die ring al in die rondte te jaag. Verander sy rigting kort-kort. Hou hom uit die hoek van die oog dop om te sien wat is sy reaksies. As hy hom nie aan jou steur nie, sal sy aandag oral wees behalwe by jou. Begin hy egter besef dat jy die wêreld vir hom moeilik maak en hy nou in jou goeie boekies moet kom, sal hy witvoetjiegedrag begin toon.

Die eerste teken is dat hy die oor naaste aan jou, in jou rigting sal draai, want dis waar sy aandag is. Verander sy rigting totdat jy seker is jy het sy aandag. Hy kyk nou na jou vir leiding. Dryf hom steeds in die rondte, maar hou sy mond dop vir koubewegings. Dit is die liggaamstaal wat die jong vulletjie gebruik om vir sy ma te sê dat hy jammer is. Koubewegings beteken hy is reg om hom aan jou te onderwerp.

Minder druk

Haal die druk af, draai om en keer jou rug op die perd. Stap ‘n paar tree weg. Draai dan terug en neem die uitnodigende houding aan (vorige artikel). Indien die knoop suksesvol was, sal die perd na jou aangestap kom en by jou kom staan in ‘n onderdanige houding. As jy wegstap, sal hy jou volg. Indien hy dit nie doen nie, moet die hele proses van voor af gevolg word. Sommige perde knoop gou, maar ander neem ‘n hele dag. Vra vir iemand wat weet hoe, om die knoop aan jou te demonstreer.

Oefening vir hierdie maand

Die meeste ruiters ry meestal net in ‘n geslote arena. Dit kan vir ‘n perd baie vervelig raak. Indien dit bietjie gevaarlik is om buite die arena te ry, gaan stap eers met jou perd met sy leisels in jou hand buite die arena. Neem hom onderdeur bome, deur hekkies, oor ‘n vreemde oppervlak, ‘n bultjie, ‘n slootjie of na iets wat vir jou interessant lyk. Die perd mag ‘n bietjie bang wees vir al die vreemde dinge, maar as jy die leiding neem sal hy jou vertrou en volg. Dit is dikwels ‘n heerlike uitstappie vir die perd en wanneer jy dalk die dag op sy rug uitry, sal hy onthou dat hy nie nodig het om skrikkerig te wees nie.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.