Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Weens doelmatige teling van Suid-Afrikaanse Hackneys en 'n groot mate van inteling by perde in die buiteland, het die uitvoer van perde van hierdie ras meteens mode geword. Plaaslik geteelde perde word oorsee immers só hoog geag, dat 'n hings vanuit hierdie bodem vir die eerste keer as die ras se wêreldkampioen aangewys is.

Noudat die uitvoer van Hackneyperde 'n werklikheid is en dit groot belofte vir die toekoms inhou, kan Hackneyteling op 'n Suid-Afrikaanse plaas of kleinhoewe inderdaad as 'n lewensvatbare besigheidsonderneming in eie reg bedryf word.

"Aangesien teling 'n langsame proses is, moet dit egter met die grootste omsigtigheid en met neergelegde langtermyndoelstellings aangepak word," meen Danie Alberts, een van die eerste plaaslike telers wat Hackneys uitgevoer het. Nou smaak hy boonop die genoegdoening dat 'n hings wat hy geteel het, einde verlede jaar as die wêreldkampioen vir die ras aangewys is.

'n Winsgewende ras
Selfs voordat van ons land se Hackneys onlangs die internasionale terrein betree het, is reeds in sekere plaaslike stoeterye bewys dat Hackneyteling 'n winsgewende proposisie kan wees. Soos in Danie se Shaniestoet en in die beroemde Lantanastoet, wat hy sedert ses jaar gelede saam met sy vrou, Alta, vanaf die wynplaas, Sandwyk, in die Suider-Paarl bedryf.

In lande soos Engeland en Nederland is inteling besig om sy tol te eis. Perde dáár word al hoe kleiner en van hulle het kort nekke. Dit is om hierdie agteruitgang van die ras te stuit, dat hulle ons grootte perde van 15 hand en hoër benodig. Langer nekke, 'n goeie skof, 'n buitengewoon mooi kop, ore en, natuurlik, aksie by uitnemendheid, is wat hulle in Suid-Afrikaanse Hackneys kry.

Danie waarsku egter plaaslike telers dat dit een ding is om met die oog op jou eie behoeftes te teel. Om perde vir 'n gesofistikeerde buitelandse mark te lewer, is 'n buitengewone verantwoordelikheid.

Europa toe
Die eerste plaaslike Hackneys wat ooit deur amptelike kanale op oorsese bodem beland het, was dan ook 'n hings wat deur Danie geteel is en deur sy destydse eienaar, Hennie du Preez van Rawsonville uitgevoer is, Shanie Rebel, asook die hings, Field Marshall, van Dullah Davids van Schaapkraal op die Kaapse Vlakte.

Verlede jaar het nóg sewe Hackneys ons land vir Nederland verlaat. Hulle was uit die stoeterye van Danie en Hennie, asook van Adam Brenner en Omar Davids, beide van die Vlakte, Chris Bredenkamp van Bultfontein en Doudjie Samuels van Kimberley.

Hoewel al hierdie perde na Holland uitge­voer is, is belangstelling in perde uit Suid-Afrika ook in Engeland – die ras se land van herkoms – en selfs in Amerika aan die toeneem. Toe hierdie besending perde ons land verlaat het, het Danie geensins kon dink dat 'n hings wat deel van die groep uitgemaak het en hyself geteel het, die sewe-jaar-oue Shanie Strikeler, enkele maande later tot wêreld­kampioen gekroon sou word nie.
Dit was tydens die internasionale byeenkoms vir Hackneys wat verlede jaar by die Towerlands Centre in Braintree te Essex gehou is. Die wêreld se top tien perde het hier in die enkeltuig om die hoogste louere meegeding. Die uiters bekwame afrigter, Egbert Emminck, het hom vertoon en sy verheugde nuwe eienaar, Peter Vugts van Vught in Nederland, was langs die baan.

Om Danie se hart verder te laat bons, is die hings Shanie Rebel, wat verlede jaar deur Hennie du Preez aan die Nederlander, Willem van der Heul, verkoop is, vierde in die kompetisie geplaas.

"Die Europeërs soek perde uit ongeveer ses geslagte terug en van hulle is nog hier bekombaar. Selfs bloed uit sekerlik die beroemdste Hackneymerrie uit die vorige eeu, Hurstwood Superlative, vloei steeds in al die perde op hierdie plaas," sê Danie.

Hantering en afrigting
"Teling en afrigting, maar veral teling, sal altyd 'n misterie bly. Hoewel die keuse van 'n bloedlyn vir teeldoeleindes uiters belangrik is, werk dit uiteindelik nie altyd uit soos wat 'n teler in sy geestesoog gesien het nie."

Hy beskou geduld met en die "sagte" hantering van Hackneys as die sleutel tot sukses met die afrigting van perde van hierdie ras. Dit is ook belangrik om hierdie warmbloedige ras onvoorwaardelik lief te hê.

Ofskoon in Nederland veral daarin geglo word dat met die afrigting van 'n vul eers op 'n ouderdom van vier jaar begin moet word, doen hy dit veel vroeër, op twee jaar. Dan is dit egter 'n langsame proses. Indien 'n mens op 'n vinnige, selfs hardhandige manier probeer om van 'n jong perd 'n kampioen te maak, is dit op die lange duur meesal 'n mislukking en eindig hy nêrens as senior nie.

Boonop moet elke perd op eie meriete en as 'n indiwidu geëvalueer word. "Indien hy sekere nukke toon, soos om jou in die stal te bestorm, probeer eers vasstel waarom hy so optree. Moet hierdie aggressie as 'n aanval op jou beskou word of is dit uit selfverdediging dat die perd só reageer?"

Natuurlike aksie
Danie gebruik nie hulpmiddels wanneer hy perde afrig nie. "Dit is belangrik dat Hackneys van nature reg geteel moet wees, soos om die pote korrek op te tel vir natuurlike aksie, die kop reg te dra en boonop moet hulle lig beslaan word."

Hy beklemtoon dit ook dat die Hackney, anders as wat in die algemeen gedink word, 'n uitstekende veeldoelige perd is – ook vir rydoeleindes.

Wat Shanie Strikeler betref: Danie het dié besonderse perd agt jaar gelede uit die hings, Breda Outlaw, en die merrie, Shanie Melanie, geteel. Selfs sedert hy 'n vul van slegs tien dae oud was, kon hy sien dat hierdie 'n unieke perd gaan word.

Dit was van jongs af 'n goed-gemanierde, byna saggeaarde perd, met 'n uitstekende temperament. As jong perd het hy dan ook plaaslik uitgeblink.

Sy bouvorm is uitmuntend en hy is 15,1 hand hoog, terwyl sy pa, wat deur Willie du Toit van Winburg geteel is, 'n kleiner perd was. Strikeler beskik ook oor 'n fyn beenstruktuur en 'n mooi, maar nie buitengewoon lang nek nie. Sy uiters fyn vel is ook iets besonders en hy het nooit in die koue winters 'n ekstra haarbedekking gekry nie.

" 'n Eienskap waaroor hierdie hings egter by uitnemendheid beskik sodat hy wêreld-eer verdien, is sy buitengewone voor- en agteraksie. Die meeste perde spog met óf 'n goeie vooraksie óf 'n buitengewone agteraksie, maar daar is weinig perde wat oor beide beskik. In dié opsig het Strikeler sekerlik nêrens sy gelyke nie."

Dit is vanselfsprekend dat die Hollanders hom ook as teelhings sal gebruik, maar Danie het hom nooit by 'n merrie vir dekkings gebring nie. Hy beskik wel oor strooitjies met semen van dié spogperd.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.