Login / Register You are not logged in.
Rosendal vanaf 'n perd se rug

Die jaarlikse Rosendal-plesierrit vind al vir die ­afgelope 20 jaar plaas, en is die breinkind van Michiel Burger, wat net buite die dorp boer. Hulle is ­destyds die uitdaging deur die predikant gestel om aan maniere te dink om fondse vir die gemeente te genereer.

Michiel het toe op die idee van die plesierrit gekom. Dit was só suksesvol, dat die rit sedert 1987 'n jaarlikse instelling geword het. Aanvanklik het Michiel en sy vrou, Carien, die rit gereël, maar die verantwoordelikheid van die reëlings is later aan die gemeente oor­gegee.

Daar is geen twyfel dat die rit 'n permanente inskrywing in baie mense se dagboeke is nie. Ruiters kom letterlik vanoor die hele land om jaarliks die rit tussen die sandsteenkranse van Rosendal te kom meemaak. Die rekord vir die meeste ruiters was 352, so 'n paar jaar gelede. Vanjaar was daar 138.

Perde en roetes
Hoewel baie mense hulle eie perde saambring, doen Michiel-hulle moeite om perde in die omgewing te bekom vir dié wat nie hul eie perde kan bring nie. In die opsig speel mede-SA Boerperdteler, Wiesman Nel van Moolmanshoek daar naby, 'n groot rol.

Die roete is ongeveer 20 km lank en is só ontwerp dat dit nie te vreesaanjaend vir die beginner-ruiter is nie, maar ook nie die ervare ruiter verveel nie. Die pas is rustig en die gees ontspanne. Hier en daar is daar so 'n ligte uitdaging gestel, soos 'n steil hang waarby ruiters moet af.

Ritstrukture
Die Rosendallers is deel van die Oos-­Vrystaatse Ruiterklub, wat uit 28 dorpe bestaan, van ­Clarens in die ooste, tot Vredefort in die weste. Elke dorp bied een groot rit aan, wat dan op die Oos-Vrystaatse jaarkalender geadverteer word. Benewens die groot rit, bied die onderskeie klubs dan ook ander kleiner ritte aan. Die klubs ondersteun mekaar se ritte ook onderling. Die ritte word aangebied as 'n gesinsaktiwiteit wat alle vlakke van bedrewenheid akkommodeer.

"Ons ritte word so gestruktureer dat die kerngroep in 'n stap op die roete bly, met die geleentheid vir die meer ervare ruiters om ­rondom die kerngroep met hulle perde te speel deur die hange op en af te verken en dalk ­vinniger te ry."

"Daar is sekerlik geen beter manier," sê Michiel, "om die Oos-Vrystaatse natuurskoon te geniet as van 'n perd se rug af nie!"

Dit is presies ook waarom hy die afgelope tyd met die idee spook om Rosendal as perdrybestemming te vestig: "Ek lees in 'n tydskrif van 'n Amerikaanse dorpie wat finansieel noustrop trek, en wat die inwoners toe in 'n 'perdedorp' omskep. Dis presies wat ek in gedagte het met Rosendal."

'n Perfekte perdedorp
"Ek wil dat ons goeie stalle oprig sodat mense vir die naweek met hulle perde hiernatoe kan kom, hulle perde in goeie, veilige huisves­ting kan hê, en self in gastehuise woon. Dan moet daar verskillende perderoetes beskikbaar wees.

"Dalk 'n roete binne-in die dorp, van die een besienswaardigheid na die volgende, met 'n stop by die plaaslike watergat. Maar daar moet ook roetes wees wat mens uit die dorp neem en die berge in, om ons ongelooflike natuur­skoon te geniet.

"Ons dorp leen hom absoluut na so iets. Ons het breë strate wat nog vir ossewaens gebou is. Die strate is hoofsaaklik ongeteer, daar is lekker baie bome en min verkeer. Ons sal sorg vir toergidse en hooi en daar sal sekuriteit by die stalle wees." Vir meer inligting oor Rosendal en die perdrygeleenthede daar, kontak Michiel ­Burger by 082 674 9595, of mdburger@lantic.net.

Top of page

Copyright © 1998 - 2010, Horse Junction. All rights reserved.