Login / Register You are not logged in.
Dink nuut oor parasietbeheer

Vir dekades het perde-eiennaars hulle slegs verlaat op die gebruik van middels om parasiete te beheer. Daar is egter baie meer om te oorweeg as om bloot by 'n winkel in te loop en 'n kan van die rak af te neem om diere mee te behandel.

Ek glo dat parasiete saam met hulle gas­here ontwikkel en 'n belangrike rol in die seleksie van diere wat by hulle omgewing aangepas is, speel. Dit is nie in die belang van die parasiete dat hulle al hulle gashere uitwis nie, want dan sal hulle self ook uitsterf.

Swakker geteelde diere word deur parasiete geselekteer en in groter getalle deur hulle besmet en klinies aangetas. Hierdie diere word gevolglik deur die natuur uit die ekosisteem verwyder deurdat vleisvreters hulle makliker kan vang - "selection of the fittest".

Wees oordeelkundig
Die mens het egter in hierdie proses ingegryp, want hulle hou nie van bosluise en wurms nie. Deur gereeld en onoordeelkundig te ­probeer ontslae raak van wurms en bosluise, het ons in baie gevalle ontslae geraak van al die parasiete wat vatbaar is vir sekere aktiewes en nou sit ons met 'n geweldige probleem: Die indiwidue wat weerstandig is teen sekere middelgroepe, vorm nou die meerderheid!

By perde is daar reeds parasiete soos bloubosluise en wurms (klein strongiele en spoelwurms) wat weerstandig is teen sekere wurmmiddelgroepe. Parasiete met die gene wat hulle in staat stel om die werking van die parasietmiddel te oorkom, is in die populasie teenwoordig. Gelukkig is hulle by vêrre in die minderheid. As diere gereeld behandel word, word die vatbare parasiete gedood en die weerstandiges oorleef.

Dit is belangrik om te weet dat meeste van die parasiete NIE in of op die dier voorkom nie, maar in die omgewing! Een spoelwurm kan tot 'n miljoen eiers, wat in die mis uitgeskei word, per dag lê. Besmetlike larfies ontwikkel binne in die eiertjies wat 'n dik beskermende wand het. Wanneer perde kort gras vreet of voer wat uitgegooi is van die grond af vreet, word hierdie besmetlike eiers ingeneem wat dan verder in die dermkanaal ontwikkel.

Die klein strongieles lê minder eiers per wyfie, maar hulle kom in hulle duisende voor in die dermkanaal. Die eiertjies wat deur die mis uitgeskei word, het hitte en vogtigheid nodig om uit te broei en te oorleef. Die besmetlike larwes wat uit die eier ontwikkel, kan vir maande op die weiding oorleef, mits daar genoeg vogtigheid teenwoordig is.

Die sleutel tot beheer
Besproeide kikoejoeweiding skep die ideale toestande vir die larwes. Een bloubosluis­wyfie wat afgeval het, kan ongeveer 5 000 eiertjies lê waaruit die sespotige larwes te voorskyn kom. Hierdie vrylewende parasietstadia wat op die weiding voorkom, noem ons refugia.

Refugia is die sleutel tot 'n parasiet­beheerprogram! Deur altyd 'n genoegsame hoeveelheid vatbare larwes (refugia) op die weiding teenwoordig te hê nadat diere behandel is, word die nageslag (vrylewende stadiums) van die weerstandige parasiete wat die behandeling oorleef het, op die weiding verdun.
'n Genoegsame hoeveelheid refugia kan op die volgende maniere op weiding geskep of behou word:
• Behandel slegs die diere wat kliniese tekens van wurmbesmetting toon, soos ver­maering, diarree, skuur van die stert, koliek, oormatige bosluise, myte, luise, ens.
• Moenie al die diere gelyktydig behandel nie. Die weerstandige wurms se nageslag word gevolglik verdun deur die refugia van die onbehandelde diere. Perde kan bv. in twee groepe verdeel word en dan twee maande uitmekaar behandel word.
• As al die perde gedoseer word, hou hulle in dieselfde kamp vir 'n maand sodat hulle eers ongeselekteerde parasiete van die weiding kan optel, voordat hulle na 'n wurmveilige weiding verskuif word. ­Indien hulle net na wurmbehandeling verskuif word, sal die kamp met die nageslag van meestal weerstandige wurms besmet word.
• 'n Ander metode is om eers die perde na 'n wurmveilige (geruste kamp) kamp te verskuif, sodat die weiding met ongeselekteerde parasiete besmet kan word. Behandel die perde dan na ongeveer agt weke. Die nageslag van die wurms wat oorleef, sal dan op die weiding verdun word.
• Oorweeg dit om 'n paar minderwaardige perde aan te hou wat selde of nooit ge­doseer word nie. Hulle dien dan as ver­spreiders van "goeie" wurms.
• Perde wat ingekoop en dan met 'n parasiet­middel behandel word, moet in 'n parasiet­besmette kamp geplaas word sodat die parasiete se nageslag, wat dalk nie deur die middel gedood is nie, verdun kan word.
• Onthou dat waar daar gereeld mis opgetel word, die parasietlading op die weiding verminder, maar dat die refugiapopulasie terselfdertyd aan bande gelê word.

Holistiese parasietbestuur
Skeiding van groepe: Jong diere is meer vatbaar vir parasiete.

Maak en rus van kampe: Laat rus kampe vir drie maande om wurmveilige kampe te skep.

Alternatiewe gashere: Roteer verskillende spesies op weidings, hulle vreet mekaar se parasiete op.

Maak waterlekke reg en kamp natplekke af: Parasiete het vog nodig om uit te broei. Perde kan ook lewerslak- en peervormige slakwurmbesmetting ­opdoen. Waterslakke is die tussengashere van ­hierdie parasiete.

Moenie perde van die grond af voer nie: Plaas voer op sement om te voorkom dat spoelwurmeiers ingeneem word.

Kwarantyn en behandeling: Kwarantyn perde wat ingekoop word en hou hulle in 'n wurmonvriendelike kamp of stal. Behandel hulle en doen 'n eiertelling om seker te maak die middel het gewerk. Plaas hulle dan in 'n wurmbesmette kamp.

Miseiertelling reduksietoets: Om vas te stel of 'n wurmmiddelgroep werk, vra u veearts om 'n miseiertelling reduksietoets te doen. 'n Miseiertelling word voor behandeling en weer tien dae na behandeling, gedoen. Die eiertellings word dan met mekaar vergelyk.

Dr Faffa Malan is 'n veeartskonsultant. Om meer te wete te kom oor parasiete, gaan na Vra-vir-Faffa op www.landbou.com.

Top of page

Copyright © 1998 - 2010, Horse Junction. All rights reserved.