Toekomsblik: Die vyfgang ryperd
Michael van Rensburg, vorige president van SA Boerperd, skryf:
In vorige artikels in SA Horseman oor die vyfgangperd, is daarop gewys dat die ontstaan van die vyfgangperd baie lank terug dateer. Dit is ook baie duidelik getoon wat die redes was vir die ontwikkeling, implementering en instandhouding van hierdie gange.
Die vraag is dus nou of daar steeds 'n behoefte vir hierdie gange is in die hedendaagse era anders as net spesifiek in die skouring waar, soos reeds uitgewys, dit deur die Saalperd vervolmaak is. Myns insiens is die antwoord ondubbelsinnig ja en ek baseer dit op die volgende redes:
Allereers is dit altyd 'n besondere ervaring om 'n perd op hierdie gange (kortgang en trippel) te ry. Dit is genotvolle gange waaruit die ruiter baie plesier put.
Plesierperde
Alle ruiters stel nie noodwendig belang om 'n perd te ry wat 'n skouwenner op hierdie gange is nie. Die plesier en gemak dra baie keer meer gewig as die skouspelagtigheid van die gang. Daar sal dus altyd perdeliefhebbers wees wat soek na 'n gemaklike vyfgangperd wat tog ook nog met grasie en styl die gange vertoon.
Verhoudelik is daar baie meer ruiters en perdeliefhebbers wat 'n perd vir die blote plesier aanhou en ry. Vir diegene sal die vyfgangperd altyd 'n eerste keuse wees. Aangesien so 'n perd se voordeel is dat sy onderhoudskoste heelwat meer ekonomies is as dié van 'n skouperd, word sy keuse nog meer aanloklik.
Werksperde
Ten opsigte van 'n werksperd is die vyfgangperd – en sal dit altyd wees – 'n gewilde keuse. Dit is 'n logiese besluit dat, as jy moet kies tussen rygemak plus 'n gang wat tydbesparend is of om dit nie te hê nie, jy die eersgenoemde sal kies.
Hoe meer dit bekend word dat jy nie noodwendig 'n skouperd moet hê as jy 'n gangperd wil hê nie, hoe gewilder sal die vyfgang "plesier"-perd word.
Dit is myns insiens noodsaaklik dat hierdie perde op 'n geordende wyse aan die perdeliefhebber en plesierruiter bekend gestel moet word, sodat die hedendaagse ruiter kan ondervind waarom die gangperd oor die eeue 'n gewilde keuse as ryperd was.
Beweging
Die SA Boerperd het twee tipes beweging binne die ras, ten opsigte van die tradisionele (matig tot hoër) beweging en die universele (laag tot matige) beweging. Vyfgangperde binne die ras is gewoonlik tradisionele (matig tot hoër) bewegers. Dit beteken nie dat daar by sekere van die laer bewegers van die SA Boerperd nie ook die ingebore vermoë bestaan om vyf gange te ry nie.
Meer en meer mense soek na vyfgang plesierperde wat nie die tradisionele hoër beweging het nie, omdat so 'n ruiter "nie heeldag wil ry en skou nie" maar ontspanne en genotvol wil ry op 'n gemaklike pas soos 'n kortgang of trippel.
Klasse
'n Vereiste vir hierdie perde is verder ook dat hulle behoorlik geskool moet wees. Die raad van die SA Boerperdtelersgenootskap het gevolglik besluit om by die lede aan te beveel om, bo en behalwe die reeds gevestigde tradisionele en universele klasse, 'n derde kategorie, naamlik plesierperdklasse bekend te stel.
Hierdie klasse sal – soos reeds gesê – glad nie inbreuk maak op die bestaande tradisionele en universele klasse nie, maar gemeet en beoordeel word aan onder andere gemak, rygenot, suiwerheid van gang, geskooldheid en geskiktheid en ook andere vereistes waaraan 'n plesierperd in elk geval gemeet en beoordeel word.
Dit mag lyk of daar dalk hiermee op die terrein van die universele SA Boerperd oortree word. Dit is glad nie die geval nie. Binne die ras is daar baie diere wat vir die louter plesier gery word en waarvoor daar nou voorsiening gemaak word om ook aan skoue deel te neem. Nog nooit was daar universele vyfgangperde nie, omdat die universele dissipline se reëls en regulasies baie lank gelede deur die "oop wêreld" neer- en vasgelê is. Die universele SA Boerperde neem onder die neergelegde reëls van die universele wêreld deel en respekteer dit ten volle.
Soos uit die vorige artikels in die SA Horseman duidelik geword het, was die ontstaan van die vyfgangperd baie lank gelede te wyte aan 'n spesifieke behoefte wat bestaan het. Hierdie behoefte bestaan vandag nog en dit is hieraan wat die genootskap wil gehoor gee met die bekendstelling van die plesierperdklasse, spesifiek aan perde met laer tot matige beweging.
Ons glo dat hierdie behoefte deur ons ras bevredig kan word en dat dit – saam met die ander welbekende eienskappe van die SA Boerperd (pragtige temperament, lae onderhoudskoste, gehardheid, ens.) aan menige perdeliefhebber en -ruiter groot bevrediging sal gee.
Ruiterskap: Die perd se skuld
Norman Ceronio skryf
So, jy sê jy is 'n ruiter en 'n goeie een daarby? Jy sê jy kan dit bewys met jou sertifikate en die baie kilometers wat jy al afgelê het. Ja, dit is te verstane dat nie elke rit suksesvol was nie. Die baan en ander faktore soos veeartse met oogklappe aan was daarvoor verantwoordelik! Die fout kan onmoontlik nie by die ruiter gesoek word nie!
"Die baan was nie daardie dag fout mee nie en die veearts het nie 'n fout gediagnoseer op my perd nie. En weet jy wat? Toe ons die perd aflaai by die huis het hy niks makeer nie. Ek sê jou dit is die perd se skuld."
Een van die visies van Erasa (en dit behoort die visie van ander perdesportsoorte ook te wees) is die welsyn van die perd. Daarom moet dit ook die visie van elke persoon betrokke by die uithouritsport te wees, maar in die besonder die ruiter en die afrigter.
Indien dit jou visie is, geld die volgende ook vir jou? Ek haal aan uit dr Gerd Heuschmann se boek, Tug of War:
Die nege etiese beginsels van die ware perderuiter:
1. Elke persoon betrokke by 'n perd neem die verantwoordelikheid aan vir hierdie lewende wese wat aan hom toevertrou is.
2. Die perd moet so aangehou word, dat dit in ooreenstemming is met sy basiese natuurlike lewensbehoeftes.
3. Die hoogste prioriteit moet geheg word aan die perd se fisiese en fisiologiese gesondheid, ongeag die doel waarvoor hy gebruik word.
4. Die mens moet elke perd met dieselfde agting en respek bejeën, ongeag sy ras of teling, sy geslag of ouderdom, of die doel waarvoor hy aangewend word, hetsy sport of ontspanning.
5. Kennis en begrip van die geskiedenis van die perd, sy behoeftes en hoe om hom te hanteer is deel van ons histories-kulturele erfenis. Hierdie kennis moet gekoester en bewaar word, sodat dit ook vir die nageslag beskikbaar is.
6. Kontak en wisselwerking met perde is karakterbouende ondervindings vir die hanteerder en van kardinale belang in die ontwikkeling van die persoon, in die besonder die jong persoon. Hierdie aspek moet gerespekteer en gepromoveer word.
7. Die mens wat deelneem aan perdesport met sy perd, moet homself en sy perd onderwerp aan afrigting en oefening. Die doel met elke afrigting- en oefening is om die beste harmonie tussen mens en perd na vore te bring.
8. Die gebruik van 'n perd in kompetisie asook as algemene ontspanning, moet wees na gelang van die perd se vermoë, sy temperament en sy bereidwilligheid om te doen. Die manipulering van 'n perd se kapasiteit om te werk deur middel van medikasie of ander perd-onvriendelike middels, moet verwerp word en almal betrokke by so 'n aksie behoort vervolg te word.
9. Die verantwoordelikheid wat 'n mens het vir die perd wat aan hom toevertrou is, behels ook die einde van die perd se lewe. Die mens moet altyd hierdie verantwoordelikheid besef en implementeer in enige besluite rondom die perd.
Indien ons kyk na die redes vir eliminasie en die hoë persentasie van mankhede, asook die feit dat amper 30% van die ruiters wat Fauresmith 2008 voltooi het (nie geëlimineer is nie) met martingales 'n perd-onvriendelike middel) gery het.
Hierdie feite skree dat die fout by die ruiter lê. 'n Perd wat met sy kop in die lug beweeg, maak nie saak in watter een van die drie basiese gange nie, is verkeerd! Om nog 'n martingale of ander meganiese hulpmiddel soos side reins en draw reins en harde ontoegeeflike hande te gebruik, is verkeerd.
Hierdie manier van voor agteruit-aksie teuels, oefen 'n geweldige hefboomkrag op die brug "bars" van die kaak. Dit word bereken dat 60 kg druk weerskante op die brug van die kaak geplaas word, wat op sy beurt weer 601 kg druk op die occiptical bone, die eerste werwel van die nek agter die kop, plaas.
'n Perd wat so hanteer word, hoort nie op die baan nie en se basiese afrigting en ruiterkuns is verkeerd. Die skade wat aan die skelet van die perd gedoen word, hoewel nie sigbaar nie, is geweldig en sal die perd se oorblywende leeftyd 'n hel maak en sy lewensduur verkort. Daar moet teruggegaan word na die basiese afrigting van die perd.
Sulke ruiters het nie 'n vae benul van horsemanship nie. As jy egter elke noot ken, dan het die perd nie nodig om te kompenseer nie. Hy weet wat daar is. Ray sê voorts: "Ek maak nie dieselfde fout twee keer nie, want ek is te besig om nuwe foute te maak. Dit is hoe ek leer."
Ons as ruiters moet die beginsels van losgelassenheit leer om sodoende ons ruiterskapprobleme op te los.
Daar is geen ander oplossing vir hierdie probleem nie.