Login / Register You are not logged in.
Die junior perdemeester - Word beste vriende met jou perd

Sou jy belangstel om opgelei te word as perdemeester? Lees dan hierdie reeks met aandag en oefen die praktiese deel so dikwels moontlik saam met jou perd. Dan sal jy jou perd verstaan en hom baie goed leer ken. Hy sal jou ook leer ken en baie lief word vir jou.

'n Perd wil graag 'n beste vriend hê. In ons perdetrop van 35 by Mooikrans Equus, sien ons dat die meeste perde 'n beste, beste vriend het. Hulle twee loop altyd bymekaar en as jy hulle dophou, sien jy dat hulle 'n hele paar keer per dag aan mekaar raak.

Wat moet 'n mens doen om jou perd se beste vriend te word? Lank gelede is daar reeds baie boeke geskryf deur mense wat perde vir baie jare in hulle natuurlike staat dopgehou het. Ons glo dat die mens by die aard en die natuur van die perd moet aanpas en alles moet vermy wat teen die perd se natuur is. Hierdie benadering is bekend as "natural horsemanship". In Afrikaans noem ons dit perdgerigte ruiterskap.

Die perd as vlugdier
In die natuur sien ons dat perde baie gou vlug wanneer hulle skrik. Hulle het nie tande of kloue om hulle te verdedig nie, maar het lang, sterk bene, harde pote, groot neusgate en groot longe, sodat hy vinnig en baie vêr kan weghardloop as dit moet. Hulle is dus aangepas as vlugdier. Ons sê ook "prooidier", omdat hy in die vroegste jare in die wildernis die prooi (voedsel) was van roofdiere soos leeus.

Nog baie van hierdie eienskappe is in die moderne perd aanwesig. Perde skrik nog steeds vir 'n geritsel in die gras, of vir 'n vragmotor wat van agter verbyjaag. Hulle hoor die dreuning en dink die ding kan dalk op hom spring – hy moet padgee. Om te bok is dan 'n refleksbeweging.

Die perdemeester leer sy perd om nie bang te wees nie, en dit leer hy deur vir sy perd te wys dat hy hom altyd kan vertrou. Die beste manier om te begin om jou perd te skool, is in 'n ring of enige ander sirkel­vormige plek, terwyl jy op jou voete staan. Ons noem dit grondwerk.

Grondwerk
Moenie gedurig vir jou perd 'n klomp appels, wortels of suikerklontjies gee nie. Hy moet leer om van jóú te hou, nie van die kos wat jy saambring nie. Bring liewers lang tye saam met hom in die ring deur. Net soos 'n hondjie, hou 'n perd ook van jou nabyheid.

Perde kommunikeer met mekaar deur middel van hulle lyftaal. Let dus op jou liggaams­taal (jou lyftaal). Ongelukkig het die mens 'n voorkoms wat ooreenstem met dié van 'n roofdier. Daarom moet jy versigtig wees om nie nog soos 'n roofdier op te tree nie, maar om soos 'n perd se vriend op te tree.
Roofdiere kyk hulle prooi stip in die oë, soos die kat wat die voëltjie in die tuin bekruip. Die perdemeester kyk effens voor die perd, op die grond. 'n Perd wat 'n ander wil verdryf, laat sy kop sak, trek sy ore plat en storm pylreg op die ander perd af.

As die ander perd nie lus is vir baklei nie, draai hy sy sy op die aanstormende perd, net soos die klein hondjie wat op sy ruggie gaan lê as die groot hond vir hom knor. Stap dus stadig sywaarts na jou perd en moenie op hom afpyl nie. Moenie jou hande optel en jou vingers strek nie – dit lyk na kloue!
Volgende keer lees ons meer oor die verskillende liggaamshoudings wat die perdemeester kan aanleer: Die passiewe, onsigbare, dominante en uitnodigende houding. So sal jou perd presies verstaan wat jy vir hom wil sê.

Praktiese oefening
Doen hierdie grondwerk vir ten minste 10 minute, so dikwels as wat jy kan:
• Sit 'n halter aan vir jou perd en hou liggies aan die haltertou vas. Vryf met 'n ander tou, ongeveer 3 m lank, wat op 'n bondel gevou is oor die perd se rug, oor sy boude, langs sy sye en pote af. Doen dit aan beide kante. Die perd geniet dit en terselfdertyd maak jy hom aan aanraking gewoond. Jy "desensitiseer" die perd.
• Laat wip die punt van die tou van die regterkant af, oor die rug na die linkerkant, en andersom.
• Swaai die tou met die een hand in sirkels langs die perd se kop, eers aan die regterkant en dan aan die linkerkant. Begin eers stadig en versigtig sodat hy dit gewoond raak.

Top of page

Copyright © 1998 - 2010, Horse Junction. All rights reserved.